Wie Wys Hul Tande In Varsity Cup?

Die uitslae van die eerste twee rondtes van die jaar se Varsity Cup begin wys wie is die spanne wat tande wys en wie is die wat nog melktande wissel.  Tuks, Pukke en Shimlas beheer die punte leer in daardie volgorde, almal met ‘n wen en ‘n gelykop uitslag tot op datum.  Rondte drie sal egter weer sy eie uitdagings inhou met ‘n paar klipharde tweestryde.

Bloefontein huisves ‘n derby met CUT wat vir Shimlas oornooi.  Die Ixias se debut-seisoen tot Varsity Cup het nie ‘n droom begin gehad nie, maar daar was ook nie noodwendig ander verwagtinge gekoester nie.  Shimlas is nog onoorwonne en sal dit so wil hou en ek sien ook nie dat Ixias die doring in die vlees gaan wees nie.

Ikeys is weer terug op tuisbodem na hul loesing verlede week teen Tuks en die Madibaz verwelkom hul kaptein Jarryd Buys terug.  Tythan Adams wat die laaste vesting volgestaan het skuif terug na sy meer erkende posisie op vleuel.  Ikeys het self ‘n nuwe heelagter gekies, met Paul Cohen wat sy eerste begin kry en kaptein Michael Botha wat sy terugkeer na ‘n besering maak.  Ek vermoed die souties van die Kaap sal die knoop deurhaak op hul staatmaker Green Mile.

UJ huisves die Puk wat verlede week gelykop teen Maties gespeel het in ‘n baie winderige Danie Craven Stadion.  UJ het nog nie hulself as ‘n bedreiging gevestig nie, ten spyte van ‘n weghol sege oor die Ixias.  UJ het ‘n nuwe skakelpaar wat hopelik vir hul meer rigting sal verskaf.  Puk sien een verandering in hul span met Molotsi Bouwer wat op flank inskuif.  Ek glo Puk sal hier weer hulself optel na verlede week en hul veldtog op die regte pad kry.

Die grootste wedstryd vandag is Tuks teen Maties, dit afgesien van die ander derbies wat ook plaasvind.  Die Noord vs Suid kragmeting bly maar ‘n hoogtepunt, of dit nou skole, Varsities of op die hoogste provinsiale vlak is.  Tuks het een verandering op flank aangebring met Maties wat heelwat rotasies gemaak het en kaptein Wilhelm van der Sluys is terug op slot.  Die enigste nuwe gesig is Brendon Asher-Wood wat op vleuel inkom met Craig Barry wat die nommer 15 trui gaan aantrek.  Maties het laasjaar vir Tuks ore aangesit met ‘n solo vertoning van Robert du Preez.  Ek sien egter die keer swarigheid vir die Maroentruie wat moet reis en ook ‘n sterbelaaide span van Tuks moet trotseer.  Ek gaan maar in die guns van die manne van Wiaan Liebeberg moet leuen.