Wat Is Die Plan Met Splinterboude En Sakdraers?

Die Currie Beker se feesvieringe het nog nie behoorlik tot ‘n einde gekom nie en daar is die WP eersdaags in Engeland om Saracens in ‘n vriendskaplike wedstryd uit te daag en die Bokke wat Saterdag met Ierland kragte meet.  Die WP behoort baie geld op hotelle te spaar, want die spelers kan net by hulle mede Saffas bly wat reeds nes geskrop het tussen die Pommies.

Die WP het die afgelope week vyf jongelinge aan ander unies afgestaan, maar darem ook drie se dienste bekom in die voorry om die leemte van Tiaan Liebenberg, Pat Cilliers en Brok Harris te vul.  Bongi Mbonambi, Wilco Louw (beide van die Bulle) en Vince Koch van die Pumas kan alreeds die komende naweek die hoepeltrui oor hul kop trek.  Michael van der Spuy speel in sy laaste wedstryd vir die WP, aangesien hy saam met Stephen Coetzee die Griekwas se diepte volgende seisoen gaan aanvul.  Eital Bredenkamp en Jan Uys uit WP o/21 geledere en ook Tazz Fuzani gaan Kaapstad vir die Windstad verruil.

Die WP durf Sondag Saracens aan met ‘n redelike sterk groep, ten spyte natuurlik van die spelers wat op Bok diens is.  Senatla en Carr is ook by die Bok groep betrokke, terwyl Cheslin Kolbe weer die Blitzbokke gaan verteenwoordig.  Die span  moet nog amptelik bekend gemaak word.

Heyneke het geen veranderinge in sy 23-tal aangebring nie.  Slegs Coenie Oosthuizen maak sy terugkeer na die vorige oorwinning teenoor die All Blacks.  Hy vervang die beseerde Marcel van der Merwe op die bank.  Ruan Pienaar se toer is beeindig voordat dit nog regtig begin het as gevolg van ‘n knie besering wat nie spoedig genoeg herstel het nie en Jano Vermaak is opgeroep om diepte onder die skrumskakels te verskaf.

Die Bokke sal sekerlik geen ander doel voor oe he as om skoonskip te maak in die Noordelike Halfrond nie.  Die fokus behoort egter nie korttermyn te wees net om seges te behaal nie, maar soos vroer ook al genoem diepte te ontwikkel en jongelinge aan die haglike omstandighede bloot te stel.  Of Meyertjie egter die sentiment van die publiek deel  sal net tyd vir ons kan leer. 

Ek glo darem die Bokke sal die arsenaal he om die Iere se entoesiasme te blus.  Heyneke werk hard om ‘n sterk kombinasie op die bank te kies om die nodige impak te maak.  Die sleutel is egter om die regte tydsbereking te kry om die span begeesterde splinterboude soos ‘n trop willehonde los te laat.

Ek sien wel die meeste uit na die laaste stryd op die toer as die internasionale venster gesluit is vir buitelandse spelers.  Die vraag in my kop is of Heyneke al ‘n plan beraam het met al die sakdraers wat opbou na daardie oomblik of gaan hy dit maar vat soos hy gedeel word met ‘n swak poker hand?