Varsity Rugby Bedien Nagereg Met Bietjie Sout

Die Varsity Cup het met niks minder as ‘n hoogtepunt afgesluit nie.  Dit is ongelukkig nie die oe van die manne van Potch nie, maar wel die van Bloem. Shimlas het nie net die finaal gewen nie, maar dit behoorlik hul eie gemaak en hul stempel daarop gesit.

Pukke het hulself onder baie druk laat verkeer deur swak dissipline aan die dag te le.  As daar egter na James Small se uitbarstings in die tegniese area gekyk word, kan ek seker maar net wonder waar die voorbeeld vandaan kom.  Shimlas was egter die mees konstante span, wat die beste gebalanseerde rugby deurgans opgedis het.  Ek haal my hoed af vir Franco Smith en dit is wel verdiend om in sy eerste seisoen sulke welslae te behaal.  Ek voel egter vir Robert du Preez wat nou ‘n tweede onsuksesvolle poging in die finaal beleef het, dit ten spyte van baie goeie opvolgende seisoene. Ongelukkig word ‘n kompetisie in die finaal beklink en dit was nie in hulle sterre te bespeur nie.

Spelers wat werklik uitgestaan het was Daniel Maartens, ‘n woelwater flank wat ook ‘n sterk baldraer is, en Niel Marais, die effens uitgesette losskakel, maar wat taktiese spel en vaardighede nie kortskiet nie – dit aan die kant van die Shimlas.   Pukke het Dillon Smith, skrumskakel wat diens gedoen het op vleuel, weer die wereld aan die brand gespeel en ook Johan Deysel wat met kraglopies Shimlas se middelveld deurboor het.  Nog ‘n speler wat die oog gevang het, of dalk seergemaak het, was Marno Redelinghuys lenige flank van die Puk, maar dit was ongelukkig vir die verkeerde redes. Sy disspline was gelykstaande aan ‘n tweejarige wat “terrible two’s” beleef, sowel as ‘n slegte nagrus gehad het en in kompetisie met ‘n maatjie oor sy gunsteling speelding.

Die opwindende gevolgtrekking van die Varsity Cup is dat dit nog nie finaal afgehandel is nie.  Supersport bederf ons met ‘n kragmeting Dinsdag waar ‘n Varsity Cup XV die Junior Springbokke van Dawie Theron op Stellenbosch slaags het.  Dit beloof die aptyt te wek vir goeie klipharde rugby vir manne wat vir oulaas nog die oog wil vang met die oog op ‘n professionele loopbaan.  Dit na dit die afgelope week aan die lig gekom het dat Reniel Hugo van Tuks, wie ook as kaptein van die Varsity Cup span aangewys is, sopas ‘n kontrak met die Cheetahs gesluit het.  Dit is beloning vir volgehoue goeie spel die afgelope twee seisoene vir Tuks, sowel as voorafgaand by Maties.

Wat my wel rooi om die kiewe maak is as daar in die media deur sekere amptenare na seker spelers as Springbokke en professionele spelers verwys wat hul tande in die Varsity Cup geslyp het.  Dit terwyl meeste van daardie spelers op daardie stadium reeds by ‘n unie gekontrakteer is.  Ek kan nou met ‘n paar name vorendag kom wat reeds senior kontrakte by unies het maar nogsteeds as Varsity Cup spelers geag word.  More, oormore is hulle Springbokke dan word na hulle verwys as Varsity Cup produkte.

Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek is gaande oor die konsep en self vasgenael voor die kassie op Maandae as ek nie self in die stadion sit nie.  Ek voel wel dat daar eerder na ‘n speler wat Super Rugby of selfs Vodacom Cup speel moet verwys word as ‘n uitvloeisel van Varsity Cup as wat daar na ‘n Varsity Cup speler verwys word wat verlede jaar ‘n unie verteenwoordig het.  Kyk ons hoeveel spelers met provinsiale ondervinding daar deur Varsity Cup kan kry of hoeveel Varsity Cup spelers ons in die provinsiale stelsel kan kry?