Varsity Cup: Shimlas Se Vlag Wapper Hoog


Na afloop van verlede week se vierde-rondte aksie van die Varsity Cup kompetisie, is daar nog net een span wat staande bly.  Shimlas, na hul oorwinning oor Maties, is tans die enigste onoorwonne span in die toernooi.  Tuks wat saam met hulle die leisels gehou het tot voor die rondte, het gesneuwel teen ‘n begeesterde Puk.

Die Maties is terug in die Eikestad en ontvang gashere UJ, wat van ‘n oortuigende sege oor NMMU afkom.  Maties aan die anderkant het nog nie een oorwinning op hul kerfstok nie, maar kon darem al twee gelykop uitslae bewerkstellig.  Dit klink of die veranderinge aan die Maroentruie die gewenste uitwerking gehad het, maar hulle kon dit net nie in punte omskep nie.  Die jong turke leer op die harde manier en hopelik stap hulle hardebaarde anderkant uit.  UJ lyk of hulle begin spoed vang met twee sterk oorwinnings in opvolgende weke teen die Puk en NMMU.  Ek gaan ‘n wilde kaart skiet en die Maties as oorwinnaars kies, gebaseer op hul tuisrekord en hulle het Puk gelykop gedwing en meer van ‘n geveg opgesit teen voorlopers Shimlas.

Shimlas reis teen die kus af en meet kragte met ‘n Madibaz span wat by die week swakker word.  NMMU het die kompetisie sterk afgeskop en daarna twee lelike loesings teen Ikeys en UJ gekry.  Ek sien nie hoe hul veldtog nou gaan rigting verander nie en dit teen die voorlopers Shimlas.  Shimlas behoort die kragmeting, indien hulle op alle silinders vuur, in ‘n drafstap af te handel en steeds onoorwonne heers.

Tuks is tuis na ‘n verassende verloor teen die Puk.  Oorgerustheid na die groot sege teen Maties het seker in hul kamp ingesluip en hulle sal die week dit wil regstel, ongelukkig vir die Ixias gaan hulle aan die ontvang kant wees. Ek sien niks minder as ‘n 60 tot 70 punt pakslae nie.  Ixias was verlede week soos ‘n ou tuinslang, hulle het nie geweet waar om die water te keer wat onbeheersd by al die gate uitgevloei het teen UCT nie.

Puk speel gasheer vir die souties van die Kaap.  Hierdie is my kragmeting van die week met beide spanne wat nog hard veg vir ‘n versekerde uitspeel plek.  Die puk se sterte pronk hoog na hul sege teen Tuks en Ikeys se spanbestuurder het verlede week haar pen leeg geskryf om al die puntemakers aan te teken teen Ixias. Die week gaan egter ‘n perd van ‘n ander kleur wees en ten spyte van Ikeys se krag dink ek die Puk gaan die knoop deurhaak op tuisbodem.

Naas Shimlas wat onoorwonne is het Ixias nog geen punte op die tabel nie en Maties en NMMU veg om weg te kom uit die gevaar sone.  Tuks, UJ, Puk en Ikeys en met ‘n buite perd en hoogs wiskundige kans kan Maties, ook nog gereken word as uitspeel kandidate.