Varsity Cup Afskop

Die studente is terug op kampusse versprei oor die land en die opwagting is groot vir die afskop van die Varsity Cup tussen die top 8 rugby universiteite, wat vanmiddag in volle swang begin.  Ek’s amper oortuig daarvan dat klasbywoning nie vandag ‘n prioriteit gaan wees nie, veral nie vir die spelers wat wegspeel nie.

Eerste aan die beurt is die Madibaz van NMMU wat die Maroentruie van Stellenbosch ontvang vir ‘n 16h45 afskop.  Madibaz het ‘n perfekte tuisrekord vanaf verlede jaar en sal die momentum wil volhou, terwyl Maties die oorhand sal wil bevestig oor die manne van PE.  Maties het verras met hul nuwe werwing Robert du Preez, wat verlede jaar die jong Bokkies in die nommer 10 trui verteenwoordig het, op die bank in te sluit.

Ek gaan my nek uitsteek en roep  Maties om  naelskraap as oorwinnaars uit die stryd te tree, dit gaan egter broekskeur gaan.

Die ander 17h00 afskop is die Ikeys wat die manne van Potch onder vroeër genoemde Robert du Preez senior sal aandurf op hul tuisveld die Green Mile.  Beide spanne sal ‘n punt wil bewys onder nuwe afrigters.  Manne om dop te hou is die opwindende Luther Obi op vleuel, wat laasjaar die wêreld aan die brand gespeel het in die Junior IRB Wêreldbeker.

Ek gaan dit waag om die souties van UCT die gunstelinge te beskou met goed gesoute (vergewe die sinspeling) seniors in hul geledere en die tuisvoordeel.

Die 19h00 uitsaai wedstryd word beding tussen die gasheer Tuks en reisende bure UJ.  Tuks onder nuwe kaptein, Reniel Hugo, het heelwat jongelinge met groot name in hul geledere.  Op UJ se spanlys is ster heelagter Marais Schmidt wat ook al die Jong Bokkies verteenwoordig het.

Ek glo die heersende kampioene gaan te veel skietgoed hê vir die baie nat agter die ore UJ span.

Laaste aan die beurt ook om 19h00 is gasheer Shimlas wat die manne van Wits gaan trotseer.  Shimlas het ‘n ervare losskakel in Gouws Prinsloo wat die rigting aan die Vrystaters sal verskaf.  Wits het nie veel om oor huis toe te skryf nie, hulle het maar min manne van gestalte in hul span.

Shimlas behoort, ten spyte van ‘n sukkelende rekord in die kompetisie, as gunstelinge beskou te word.

Daar is baie om oor opgewonde te wees en ek kan nie hierdie werksdag vinnig genoeg om wens om vanmiddag die studente in aksie te sien nie…back your boytjies!