Tuisveld Voordeel Word Prysgegee

Die fokus op Super Rugby het afgeneem, aangesien alle SA spanne uit die kompetisie geboender is.  Die Haaie het verlede week wel gevlieg na Christchurch toe, maar ongelukkig nie vir die wedstryd opgedaag nie.  Die Crusaders was in ‘n hoer rat en die Haaie nog in die motorhuis parkeer.  Die Waratahs het self maklik die Brumbies kaf gedraf en hulle soos ‘n spul mak trekperde laat lyk en ook gewys hoekom hulle die meeste statistieke lei in die jaar se kompetisie.

Dit bring ons dan by die finaal waar die Tahs die Saders huisves.  Die Tahs het besluit om hul tuisveld voordeel prys te gee vir ‘n groter stadion.  Dit wys weereens net dat kommersiele waarde meer aansien geniet as om trofees te verseker.  Todd Blackadder, Crusaders se afrigter, het genoem dat hulle as Crusaders, nooit so ‘n sinnelose besluit so deurvoer nie.  Die enigste insentief om bo aan die punteleer te eindig is tuisvoordeel en dan verruil jy dit soos Esau vir ‘n pot lensiesop. 

Ek hoop stilweg dat die Tahs die eindstreep eerste gaan oorsteek, nie net omdat hulle die enigste SA geurtjie bevat in Jacques Potgieter nie, maar omdat hulle dit nog nooit vermag het nie en ook die beste span tot op hede in die kompetisie was.  Die Saders weet egter hoe dit gedoen moet word en met verlede naweek se spelpeil, gaan ek die guns in die rigting van die manne met rooi en swart gewaad swaai.  Die ervaring in Carter, McCaw, Reid om net ‘n paar te noem het hierdie roete al vele male gevolg en om sukses te proe is ‘n tweede natuur.  Hiermee onderskat ek nie individuele briljantheid in Folua, Beale en Hooper nie, maar briljantheid wen nie eindstryde nie.  Jare se ondervinding, volwassenheid en kalmte op die groot dag dra die beste span deur.

Dit gaan ‘n aanskoulike wedstryd wees, die is twee spanne wat weet hoe om aanvallende rugby op te dis.  Die feit dat daar nie lojaliteit le by enige van die twee nie, kan ons agteroor sit en goeie rugby ten volle geniet sonder enige patriotisme.