Te Min Te Laat

Die ou Afrikaanse gesegde lui “as die hond nie gaan sit het nie, het hy die haas gevang”.  As is egter ook verbrande hout en om nou te tob oor die verlede is ou koeie. Die Bokke het nie ‘n suksesvolle Wereldbeker agter die rug nie, al seevier hulle Vrydagaand teen die opmars van die Poemas.

 

Die enigste manier hoe Heyneke die tragiese verloor teen die Japanese in rondte een kon regstel, was deur die Webb Ellis trofee om hoog te hou. Ons weet teen die tyd dat dit nie meer gaan realiseer nie. Moet my nie verkeerd verstaan nie, die Bokke was waardige teenstanders vir die magtige All Blacks, maar te min te laat.

 

Dit help nie om te diep te delf oor waar dit fout gegaan het nie, dit is belangriker om nou die toekoms aan te durf. Die volgende vier jaar gaan ‘n kritiese tydperk vir Bok rugby wees en kan bepalend wees of ons gaan agter raak met wereld rugby en of daar stappe in die regte rigting geneem gaan word om weer ‘n wereld-fors te wees. Ek stem vir nuwe bloed, maar dit behels nie noodwendig ten koste van Heyneke nie. Hy gaan wel nuwe idees en planne moet formuleer. My voorstel is in die vorm van nuwe assistente of konsultante, iemand wat die status quo kan bevraagteken. Die probleem is dat sy huidige personeel te veel gevorm is na sy smaak. Daar is nie meer kreatiwiteit nie. Johan van Graan kan dalk tegnies sterk wees, maar hy is saam met Ricardo Loubscher eintlik nog kort sokkies in die wereld van afrigting. Ek betwyfel nie noodwendig hul vermoeens nie, maar gun hul kans om hul tande op ‘n ander platvorm te slyp. Pieter de Villiers se invloed kan bespeur word, hy het sy  kennis op die hoogste vlak gaan opdoen en die resultate is sigbaar.

 

Daar is ‘n sterk noodkreet vir ‘n internasionale geurtjie, maar Suid-Afrikaanse rugby het sy eie dinamiek en politiek wat net ons verstaan – of ons nou saamstem of nie. Kry dus daardie kundiges in maar op ‘n beperkte hoedanigheid om hul van die media en politiek te distansioneer. Die slotsom is ons het nuwe bloed nodig, of dit in die vorm van ‘n aar of twee is en of dit ‘n nuwe hart is bly wel nog te bevraagteken.

 

Die Bokke sal wel met trots teen die Argentyne opdaag om darem hulself te sus met welslae. Victor lei weer van voor met Fourie wat sy wangbeen erg beseer het. Die gevolg dan dat Lood bank toe skuif en Ruan Pienaar die nommer nege trui sal aantrek. Lambie speel in sy 50ste toets, sou hy ‘n verskyning van die bank af maak. Habana smag nog na daardie drie wat hom vermy soos ‘n pes en Lood en Schalk sal nog ‘n paar duikslae en meters wil maak om hul posisie in daardie afdelings te versterk. Die Bokke behoort met als op te daag en behoort te seevier.  Die Argentyne het heelparty veranderinge gemaak, grotendeels as gevolg van beserings.

 

Die finaal sal ‘n mooi affere wees en ek glo die All Blacks sal seevier.  Hulle verdien dit van alle spanne met die mees konstante vertonings, nie net in die Wereld Beker nie, maar die afgelope vier jaar. Ek glo egter ‘n nuwe era breek na die toernooi aan met opkomende spanne en baie spelers wat hul tokse gaan ophang of groener note in ander lande nastreef. Dit hoekom ek dit ook as so ‘n kritiese periode vir SA rugby beskou.