Super Derbies

Die oomblik waarvoor meeste van ons gewag het. Die mees kompeterende, mees aanskoulikste rugby kompetisie op die planet skop Saterdag af met twee plaaslike derbies. Die Stormers begin met ‘n loslootjie, maar SANZAR het gelukkig met hul belaglikheid om gratis punte toe te ken vir ‘n loslootjie weggedoen.

Die Cheetahs huisves die Leeus en die katjie geveg behoort redelik eensydig te wees. Die Cheetahs het ‘n versterkte groep en sal wil voortbou om verlede seisoen se opwaartse kurwe in hul verdediging. Ons almal weet hulle kan drieë druk, maar dit was nie die probleem nie, die probleem was dat hul opponente meer drieë as hulle ingeryg het. Die jaar word hul aanvalswapen nog meer versterk met nog ‘n Blitsbok in hul geledere. Cornel Hendricks het vanaf die Boland goed naam gemaak onder destydes korter weergawe afrigter Paul Treu. Die Leeus het net nie die diepte om hond haar af te maak nie en ek vermoed ‘n sukkelende toernooi met min ster spelers. Johan Ackerman het wel al reggekry om die verwarde welpies bo hul stembande te laat brul, maar iewers gaan hulle stemme eerder moet begin breek vir welslae.

Die Haaie, onder direkteur van afrigting Jake White, nooi die blou bure van Pretoria oor vir ‘n Saterdagaand uitstappie. Die Haaie het in die voorseisoen gewys hulle kan nie ligtelik opgeneem word soos hul eweknie in die oseaan wat deur toeriste vanaf ‘n haaiboot aanskou word nie. Hulle bedoel besigheid en die skakel kombinasie van Lambie en Steyn sal hier leiding verskaf. Die Bulle kan egter nie van meet af afgeskryf word nie, maar is aansienlik dunner rondom die ervaring kurwe as in die verlede. Victor Matfield bring egter weer eiehandig die gemiddelde ouderdom bo 30, al is 80% van die span nog bloeitjies. Dit gaan interessant wees om die Bulle se spelpatroon te ontleed, daar was tekens van meer hardloop rugby verlede seisoen, gaan hulle volhard? Ek vermoed die Haaie gaan ‘n meer afgeronde eenheid wees en die Blou kalfies gaan hier te min horing he!

Braai, bier, rugby…klink vir my na ‘n werkbare Saterdag agtermiddag agenda…

Volg vir Herman op twitter “@herman_vandyk” en sluit aan by die Sports Eagle SuperBru groepmet die kode “cultlyra” en speel saam!