Stormers En Leeus Dra SA-Fakkel

Die Bulle is die enigste SA span wat nog oorsee toer en trotseer Vrydag oggend die Brumbies.  Die Haaie is terug na hulle toer en verrassende sege verlede week teen die Reds.  Saterdag is dit die Cheetahs wat Kaap toe reis om die Stormers op Nuweland te pak.  Die Leeus is daarna aan die beurt op tuis bodem teen die Waratahs.

Jurgen Visser beman die nommer-vyftien-trui vir die Bulle nadat hy by die toergroep aangesluit het as gevolg van Jan Serftontein se besering.  Die Bulle het in 2007 laas die Brumbies op eie bodem geklop en na hul verloor verlede week teen die Chiefs neig dit heel onwaarskynlik.  Die Brumbies beweer hul weet presies wat om  van die Bulle te verwag, groot skrum, lynstaan drywe en ‘n fisiese aanslag. Dit vat ook seker nie ‘n brein chirurg om tot daardie gevolgtrekking te kom nie. Die Brumbies koester egter nog uitspeel hoop en dit sal hul aanslag versterk vir die sege.

Die Haaie het my voorspelling verlede week lelik gekniehalter met hul oorwinning, ek wag al van die begin van hul veldtog daarvoor en toe lewer hulle dit net toe ek moed verloor het.  Dit is aangewakker deur ‘n goeie vertoning deur Lionel Cronje op losskakel en ‘n uitstaande twee driee deur skakelmaat Stefan Ungerer.  Kankowski sak agter in die skrum en Andre Esterhuizen skuif in die middelveld in met Frans Steyn wie se pektorale spier geskeur het.  Die Rebels het al vriend en vyand verras die jaar, maar verlede week teen die gedugte Stormers vasgeval.  Gary Gold het reeds sy vrees vir die Rebels uitgespreek, maar ek dink dit is maar om sy eie bas te beskerm.  Die Haaie beskik oor die nodige om die kragmeting te beklink, maar ons sal moet sien wat die reis effek op hul liggame gaan wees.

Die Cheetahs sal alles na die Stormers gooi in ‘n poging om sege te behaal. Die addisionele motivering om vir breier Naka Drotske ‘n oorwinning te beklink in sy swanesang sal ook die poging  versterk.  Joe Pietersen is terug as skakel en sal die hoop in die Cheetahs kamp laat opflikker.  Die Stormers kamp moet Schalk Burger rus volgens Saru se ooreenkoms en Vincent Koch vervang vir Frans Malherbe as gevolg van die rotasie beleid.  Die laaste verandering is Nic Groom wat weer sy posisie hervat en volgens Coetzee as die eerste keuse skrumskakel beskou word.  Die Stormers dra nog die SA vaandel sterk en behoort seevierend te wees teen ‘n onder-gemiddelde Cheetahs span.

Die Leeus het vir Dillon Smit in die plek van Ross Cronje op die bank ingebring met nog drie verandering in die voorspelers.  Daar is ook weer plek gevind vir Marnitz Boshoff wat by die Vodacom span diens gedoen het en Stokkies Hanekom maak ook die bank warm met Harold Verster wat vir Mnisi vervang.  Die Leeus is die ander SA span wat nog uitspeel kanse het, hulle gaan egter die sege moet beklink om dit lewendig te hou.  Die Waratahs is die leiers in die Austalie konferensie en dit gaan ‘n harde neut wees om te  kraak vir die Leeus.  Hulle bevat die regte spelers en ook die vertroue in  hul spelpatroon, maar hulle is geneig om die wedstryde wat saak maak te laat glip.