Proteas Slag Sri Lanka In Kwarteind

Die Proteas is deur na die semifinaal van die Krieket Wereldbeker nadat hulle vir Sri Lanka oortuigend gewen het met 9 paaltjies in die kwarteindrondte. Die Suid-Afrikaners het ook in die proses al die pessimiste vekeerd bewys deur hul eerste uitklop-wedstryd in ‘n wereldbeker gewen.

Sri Lanka het die loot gewen en soos verwag het hulle besluit om eerste te kolf op n goeie blad in Sydney. Die Protea-boulers het van die eerste bal af die druk op gesit en Sri Lanka was na 4 beurte al klaar in die moeilikheid op 4 vir 2 met Steyn en Abbott wat die eerste twee paaltjies laat kantel het.

Sangakkara en Thirimanne het probeer wal gooi met n vennootskap van 65 vir die derde paaltjie, maar nadat Thirimanne uitgehaal is deur Imran Tahir het die Lankane se beurt in mekaar getuimel. Tahir en JP Duminy het die res van die kolwers afgeransel met Duminy wat n driekuns behaal het in die 35ste boulbeurt.

Die hele Suid-Afrika se harte het vinniger begin klop toe daar n reenbui uitgesak het oor die stadion net nadat Morne Morkel die paaltjie van Sangakkara gekry het en almal het begin wonder of die reen weer n rol sou speel en n mens kon nie anders as om weer terug te dink aan 1992 met jou hande in jou hare nie, maar gelukkig het die water net vir so tien minute lank geval en die spel kon verder aangaan sonder enige verdere onderbreekings.

Sri Lanka is eindelik almal uit vir 133 in die 38ste beurt en Suid-Afrika het sommer dadelik die krane begin oopdraai toe Hashim Amla n vier van die eerste bal gemoker het. Quinton de Kock het die monde stil gespeel en die keurders beloon vir hul geloof in hom met n uitstekende 78 van net 57 balle met 12 viere. Daar was baie spekulasie oor De Kock se plek in die span na hy baie gesukkel het in die groep-fase, maar hy het vandag gelyk soos sy ou self en die balle grens toe gejaag met perfekte tydsberekening en die aggressie wat ons al aan gewoont geraak het wanneer hy kolf. . Amla is uit op 16, maar Faf en Quinney het ligte werk gemaak van die Eiland-bewoners se boulwerk en die wenlopies geslaan binne slegs 18 beurte.

Imran Tahir is aangewys as speler van die wedstryd met n uitstekende boul-vertoning van 4 paaltjies vir slegs 26 lopies in 8.2 beurte. Die Proteas sal glo dat hulle die gevreesde “C”-woord afgeskud het en indien hulle die volgende twee wedstryde speel soos vandag, glo ek nie enige iemand sal hulle kan stop nie.

Die Proteas sal uitsien uit na die semi-finaal in Auckland op die 24ste Maart teen die wenner tussen Nieu-Seeland en Wes-Indie. Dit beloof om nog n riller te wees!

One thought on “Proteas Slag Sri Lanka In Kwarteind

  • March 18, 2015 at 6:49 pm
    Permalink

    Proficiaat Zuid Afrika.

Comments are closed.