Proteas Gunstelinge Teen Indië

Die MCG in Melbourne is waar die twee gunstelinge in groep B van die IKR Krieket Wêreldbeker, Suid Afrika en Indië, mekaar Sondag die stryd sal aanse. Met ‘n kolfblad wat gewoonlik sorg vir ‘n gelyke stryd tussen kolf en bal, lewer die MCG die ideale speelveld vir wat beloof om ‘n titaniese stryd te wees.

Van die twee spanne sal die Proteas die blyste wees om weer voete op die MCG te sit aangesien hulle immers 7 uit 9 wedtryde hier gewen het sedert 1992. Indië kon egter sedert ’92 nog net 1 keer uit 6 probeerslae die knoop in Melbourne deurhaak. Indië kon ook nog nooit die Proteas klop in ‘n Wêreldbeker wedstryd nie.

Suid Afrika sal hoop dat hulle algemeen beter sal kan vertoon teen Indië as in hul eerste wedstryd teen Zimbabwe. Slegs 4 spelers het hulself goed van hul taak gekwyt, Miller, Duminy, Philander en Tahir. Indië het in hul eerste wedstryd met ‘n groot aanslag teen Pakistan vorendag gekom en sal hoop dat hulle kan voort bou op daardie vertoning.

Een area wat onbetwyfeld ‘n groot rol gaan speel in Sondag se stryd is die middel-beurte. Dit is hier waar Indië dalk ‘n leemte in Suid Afrika se boul aanval mag sien. Die meerderheid van die middel-beurte sal moontlik Duminy, Tahir en Behardien se verantwoodelikheid wees, maar Indië het natuurlik geen probleem met draaiballe nie. Alhoewel Behardien tot dusver goed doen in hierdie rol sal Indië se middel orde in die vorm van Kohli, Raina en Dhoni, sonder twyfel daarop uit wees om die Proteas se ondersteunende boulers aan te vat.

Dit is ook dan hier, in die middel-beurte, waar Indië die Proteas se kolwers sal wil stil hou. Met draai-boulers soos Jadeja, Ashwin en Raina tot hulle beskiking, is hulle verseker daartoe in staat om lewe vir die Protea-kolwers moeilik te maak. 

Suid Afrika sal ook mik om vroeë paaltjies te neem en sodoende die gevaarlike Indiese middel-orde onder druk te plaas. Indië sal staat maak op hul draai-boulers om druk te skep en hoop dat hul aanvangs-kolwers die mas kan opkom teen Suid Afrika se gevaarlike snel-aanval.

Moenie hierdie een misloop nie, dit beloof om ‘n opwindende stryd te wees!