Pakistan Verras, Proteas Struikel

Pakistan het die krieket wêreld verras deur Saterdag die Proteas met 29 lopies te klop (D/L Metode) in Auckland. Dit is die Proteas se 2de nederlaag in Groep B van die IKR Wêreld Beker Toernooi.  AB de Villiers het die loot gewen en besluit om eerste te boul.  Kyle Abbott het gesorg vir die eerste paaltjie in die 9de beurt waarna Sarfraz Ahmed en Younis Khan ‘n vinnige 62 bygevoeg het om die 2de paaltjie.  Pakistan kon egter nie weer n soortgelyke vennootskap aanmekaar slaan nie en het gereeld paaltjies verloor.  Slegs Misbah-ul-Haq kon die mas opkom teen Steyn en sy makkers voor hy op 56 deur die einste Steyn uigehaal is.
Pakistan is almal uitgehaal vir 222 in die 47ste beurt.  Dale Steyn was die beste van die Protea boulers met syfers van 3 vir 30 in sy 10 boul-beurte.  Steyn is goed ondersteun deur Morkel en Abbott wat elk 2 paaltjies laat kantel het.  Imran Tahir was weereens betroubaar en AB De Villiers het gewys hoe veelsydig hy is deur self ook ‘n paaltjie te neem.  Twee reen-onderbrekings het beteken dat Suid Afrika, volgens die Duckworth-Lewis metode,  232 in 47 beurte moes aanteken om te wen.
Die Proteas was vroeg al in die sop toe Quinton De Kock sy teleurstelende Wêreld Beker vertonings voortgesit het met ‘n nulletjie.  Hashim Amla en Faf Du Plessis het mooi herbou vir die Proteas. Die paartjie het 67 lopies in slegs 9 beurte bygevoeg met veral Amla wat uitstekend gelyk het.   Wahab Riaz en Rahat Ali het die wedstryd in die spasie van 5 balle in Pakistan se guns laat swaai.  Met die Proteas se telling op 67 het die twee snelboulers beide Amla en du Plessis laat terugkeer na die pawiljoen.  Hierna het die Proteas se middel-orde, met de Villiers as uitsondering, geen weerstand gebied nie.  Die Suid Afrikaners het hul laaste 8 paaltjies verloor vir slegs 135 lopies.
AB De Villiers het so amper die wedstryd vir Suid-Afrika gewen met n briljante 77 van net 58 balle.  Dit was egter neusie verby vir die Proteas toe De Villiers deur Sohail Khan uitgehaal is met die telling op 200.  Pakistan se snelboulers was op die dag net te goed vir die Protea-kolwers, Mohammad Irfan, Rahat Ali en Wahab Riaz het elk 3 paaltjies geneem.
Die resultaat beteken dat Pakistan net hul laaste wedstryd teen Ierland hoef te wen om seker te wees van n kwart-eindstryd plek, terwyl die Wes-Indiese Eilande heel moontlik sal moet staat maak op hul Netto-Lopie-Tempo om te kwalifiseer.  Vir die Proteas is 2de plek in Groep B nog redelik verseker, maar vrae sal moet gevra word oor veral Quinton De Kock se plek in die span.  Suid Afrika sluit Donderdag hul groep fase af teen die Verenigde Arabiese Emirate.