Noord Versus Suid Wek Aptyt

Die naweek is daar nie net Currie Beker aksie nie, maar die Rugby Kampioenskap skop ook af.  As die Currie Beker verlede naweek se tempo volhou, gaan dit meer onvoorspelbaar word as die huidige rentekoers.

Die Haaie speel tuis, na ‘n goeie weg oorwinning verlede week teen die Kwas.  Hulle onthaal die Pumas wat die Cheetahs laat les opse het.  Pat Lambie is op die bank nadat hy vrygestel is uit die Bok-kamp en Stephan Lewies is beseer vir die stryd.  Die Pumas het hulle staal gewys teen die Cheetahs.  My gevoel is dat hulle ‘n faktor tuis gaan wees, maar in weg wedstryde gaan hulle sukkel om die mas op te kom.  Ek voorspel dat die Haaie die een gaan wen.

Die groot wedstryd die naweek is die Noord versus Suid derby op Nuweland.  Die Bulle kom van ‘n tamaai verloor af en die Westelike Provinsie het ‘n bonuspunt wen in die bank.  Enige verwagtinge dat die WP met die telling gaan weghardloop mag dalk net veroorsaak dat hulle hoed op eet, taai sal dit taai wees.  Die WP het Bokke Etzebeth en Malherbe afgestaan, maar ‘n half-dosyn ander beseerdes terug gekry.  Stephan Coetzee kry sy eerste Currie Beker begin, maar hy is glad nie verwant aan die afrigter Alistair nie!  Die ander verandering het almal op die bank gebeur met reserwe haker Neil Rautenbach vir sy eerste maal op die bank.  Jaco Taute, Rynhardt Elstadt en Kurt Coleman saam met vele ander maak hul terugkeer.  Die Bulle het vir “Fabio” Jacques du Plessis terug in die beginspan en Marcel van der Merwe vervang vir Dean Greyling.  Die verandering in die voorry kan net in die Bulle se guns tel, aangesien hul skrum teen die Leeus gelyk het soos ‘n Interlink trok met ‘n vol vrag wat teen Kloofnek probeer parkeer het.  Ek sal op verlede week se vorm die WP as gunsteling beskou.

Die Goue Leeus het hulle maanhare gevind en die toerende OP Kings het alle sterkte nodig.  Die Leeus verstaan die Currie Beker kompetisie en speel ‘n gebalanseerde handelsmerk rugby. Hulle moet wel sonder hul ster Marnitz Boshoff klaar kom wat sy arm gebreek het, maar instaan losskakel Jaco van der Walt het heel tuis gelyk in sy afwesigheid.  Die Kings het ‘n onveranderde beginspan en Steven Sykes maak sy verskyning na ‘n besering op die bank in die plek van Darron Nell. Of die Kings hulle troon gaan vol sit, sal gesien moet word, maar die Leeus hardloop tans so gesinkroniseerd soos ‘n trop wildehonde.

Die Cheetahs sal hul verloor wil regstel en ontvang die Griekwas, wat ook van ‘n verloor af kom.  Die Cheetahs het twee groot veranderinge met Elgar Watts wat weer die nommer tien trui aantrek en Jean Cook wat op flank inskakel.  Die Griekwas het ook menigte veranderinge, Danie Dames is beseer en word vervang deur Ederies Arendse.  PJ Vermeulen is terug in die plek van Jonathan Francke wat verlede week ‘n rooi kaart gekry het en Hilton Lobberts is ook beseer.  Maks van Dyk word  na die bank geskuif om plek te maak vir Ewald van der Westhuizen.  Soos met die Pumas voel ek die Griekwas gaan meer kompeterend wees tuis, maar met die Cheetahs se huidige vorm gaan ek steeds die Kwas kies vir ‘n wen.

Die Kampioenskap skop more oggend af met die All Blacks wat ‘n rekord 18 wenne probeer haal teen die Aussies.  Die Wallabies het laas die Bledisloe Beker gewen toe die Nokia 3310 nuut op die mark was.  Ek sien nie die Wallabies enige wilde spronge maak in die stryd nie en die manne in swart wat die anale gaan herskryf.

Die Bokke is byna op volsterkte met slegs Victor Matfield wat die een uitsit.  Lood de Jager is aangewys om sy groot skoene vol te staan.  Jean de Villiers is fiks verklaar en sal ook weer die leisels neem, terwyl Damian de Allende sy buiging op toetsvlak sal maak in ‘n meer onbekende kanaal op buitesenter.  Handre Pollard se ster het nog nie verskiet nie en hy behou sy plek op losskakel.  Die Pumas gaan in ‘n nuwe gewaad uitdraf met ‘n baie sterk span, maar ek sien nie hoe die Bokke op Fort Loftus die een deur hul vingers sal laat glip nie.