Leeus Losgelaat in Loftus Kraal

 

Die Leeus en Bulle is die voorlopers in die jaar se Currie Beker kompetisie, beide onoorwonne met vyf seges agter die blad.  Die naweek sal egter bepaal wie die louere oorneem, aangesien die twee mekaar die stryd aanse.

Vrydagaand sien die Kings wat gasheer speel tot die Cheetahs met nuwe kaptein Oupa Mohoje.  Die Kings wat gedreig word deur ‘n spelers staking as gevolg van uitstaande salarisse, sit nogsteeds sonder sy kaptein in Luke Watson.  Daar is heelwat veranderinge in die Cheetahs span met onder andere Reniel Hugo en Cornal Hendricks wat ook in die beginspan  op slot en vleuel onderskeidelik ingesluit is.  Die Kings is nog opsoek na hul eerste oorwinning en word gelei deur Tim Whitehead.  Die Cheetahs sal die nodige punte terugneem Bloemfontein toe.

Die ander Vrydagaand kragmeting sien die Pumas wat reis na Hoffe park, tuiste van die Griekwas.  Die Griekwas soek ook nog hul eerste sege en ek is bevrees hulle lyk nog nie na ‘n wenspan nie. Die Pumas sal net te sterk wees en hulle spog ook met die terugkeer van Vincent Koch om die skrum te anker.

Die Westelike Provinsie reis kus op om die Haaie op eie bodem te trotseer.  Nic Groom neem die leisels oor by Nizaam Carr wat ‘n lastige hamstring het en dit gee ook vir Notshe ‘n kans op agsteman.   Dillyn Leyds neem ook weer sy plek in op vleuel met Kobus van Wyk wat bank toe skuif.  Die Haaie het vir Joe Pietersen op losskakel gekies en Odwa Ndungane sal hom vervang op heelagter.  Voorlangs is Jean-Luc du Preez in sy broer Daniel se plek ingesluit en Thomas du Toit het ook die beginspan gehaal op losskop.  Die WP het briljante oomblikke verlede week gewys teen die Kwas, terwyl die Haaie moes bloed sweet om die Pumas te bere.  Die WP lyk na die beter geoliede masjien, maar ek dink hulle gaan die wedstryd eers in die laaste kwart beslis.

Die hoofwedstryd van die naweek is beslis die Bulle op Loftus wat die Leeus gaan probeer gaffel.  Beide nog onoorwonne, dus sal die uitslag iemand van hul status ontneem.  Jan Serfontein en Dean Greyling is in die beginspan vir die Bulle ingesluit.  Serfontein, nadat hy nie die Bok groep gemaak het nie, vorm ‘n nuwe senter-kombinasie met Dries Swanepoel.  Die Leeus word gelei deur Jaco Kriel in Whiteley se afwesigheid.  Die slot paar van Franco Mostert en Martin Muller is ook ingesluit en Courtnall Skosan wat vir Anthony Volmink vervang as gevolg van ‘n besering.  Dit is twee spanne wat die bal graag lug gee en dit  behoort ‘n aanskoulike affere te wees met die jong Bulle wat ook deesdae van agter af kan kasty.  Die Leeus mag ‘n meer gevestigde span wees, maar die Bulle sal met mening wil horings wys.  Dit gaan ‘n naelbyt stryd wees met die Leeus wat naelskraap sal seevier.