Katgeveg In Hillbrow

Die Absa Currie Beker resultate het verlede week effens die kat in die duiwehok losgelaat.  Die enigste redelik voorspelbare oorwinning was die Bulle wat die Kings getroef het.  Die Kwas het, soos oudergewoonte, tot hulle reg gekom op tuisbodem en die Pumas se spoed gebreek.  
Die WP het ook vasgeval en hulle eerste loesing van die kompetisie deur die Leeus op Ellis Park ontvang.  Die Cheetahs en Haaie het in ‘n naelbytstryd die louere gedeel.  Die eerste ontmoeting die naweek is ‘n katgeveg in Hillbrow met die Leeus wat die Pumas ontvang.  Die Pumas se goeie vorm is effens ontspoor deur die Griekwas, maar hulle sal graag die Leeus wil laat les op se. 
Die Leeus brul weer hard, na hulle klipharde oorwinning teen die WP.  Die Leeus het een noodgedwonge verandering met Martin Muller wat op slot rank in die beseerde Lusaseni se plek.  Derick Minnie is weer op die bank ingesluit. 
Aan die kant van die Pumas maak Dylon Frylinck sy terugkeer na ‘n besering in die enigste verandering aan die beginspan.  Ek tip die Leeus vir ‘n wen, maar die Pumas mag dalk net hulle brul demper.  Die Cheetahs reis na die Baai om ‘n Kings span met menigte veranderinge te trotseer. 
Slegs die skakelpaar in van Aswegen en Luiters met binnesenter Shane Gates behou hul truie in die agterlyn.  Voorlangs maak Tom Botha ook sy terugkeer en Martin Ferreira wat Edgar Marutlulle se plek vul.  Die Cheetahs het op hulle beurt minimale veranderinge aangebring. 
Raymond Rhule is terug op vleuel en Clayton Blommetjies vul die laaste vesting in Rayno Benjamin se afwesigheid weens ‘n besering.  JP du Plessis skuif oor na die regter vleuel.  Super Sarel sal in sy honderste Currie Beker wedstryd meeding, waar hy sy vlerke destyds die eerste keer by die Valke gesprei het en daarna sy loopbaan by Griekwas voortgesit het. 
Die Cheetahs behoort weer die wind in hulle hare te voel met die kragmeting en die Kings wat al soekende is na hulle troon.  Die Kwas verruil die harde Diamantvelde vir die groener weivelde van Nuweland.  Hawies Fourie het drie aanpassings gemaak aan sy span. 
Maks van Dyk, Hugo Kloppers en Burger Schoeman word bevorder tot die beginspan.  By die WP kry sewesster Justin Geduld en Sikhumbuzo Notshe hul eerste begin.  Scarra Ntubeni is ook terug in die beginspan, nadat hy sy terugkeer verlede week vanaf die kantlyn gemaak het.  Catrakilis en Brok Harris is ook bevorder tot die beginspan. 
Jongeling Oli Kebble is ingesluit tussen die reserwes met Allister Coetzee wat op ‘n vyf/twee split besluit het.  Ek sal my geld op die Streeptruie sit om weer die bo-punt van die punteleer te bereik.  Die stryd van die naweek is sekerlik die een op Loftus.  Die Bulle het hulle veldtog mooi op koers gekry, terwyl die Haaie effens in troebel waters is. 
Die Haaie het vir Mvovo terug op vleuel en Paul Jordaan neem weer sy plek langs Andre Esterhuizen in die middelveld in.  JC Astle kombineer met veteraan Marco Wentzel in die tweede ry.  Die Bulle is sonder Deon Stegmann nadat hy ‘n geveg met die gereg verloor het en Jono Ross neem sy plek as kaptein. 
Die Bulle het ook vir Callie Visagie en Wiaan Liebenberg bevorder met Sampie Mastriet en Rudi Paige wat agterlangs ‘n begin kry.  Die Bulle het weer hul horings gevind en ek leuen in hul guns vir ‘n oorwinning.