Jong bloed inspireer

Die winter toetsreeks is agter die blad en die Bokke het al wat ‘n opponent is uit die pad gevee.  Die laaste toets teen die Skotte was my hoogtepunt, nie so seer as gevolg van die puntebord of die aanskoulike driee wat opgedis is nie, maar die kwaliteit van jongelinge wat na vore getree het.  Daar is meer opkomende talent as wat die Euro of Yen kan opkoop, want die manne koester nog Springbok trots van toe hulle nog laaities was en Bulletjie rugby gejol het.

Super Rugby is in die pylvak en die enigste SA hoop is nog op die Haaie.  Hulle sal egter hul sokkies moet optrek as hulle as ‘n fors beskou wil word in die uitspeelrondtes.  Die Haaie toer binneland toe om die Cheetahs aan te durf, hulle sal dit as die eerste stap na die finale toe wil beskou.  Die Cheetahs se vorige loesing teen die Stormers is seker al vergete, maar die gerugte dat hul lojale kaptein en haker, Adriaan Strauss, die Rosestad vir die Jakarandastad wil verruil is vars nuus op die horison.  Of dit ‘n invloed op die moraal van die span gaan he, sal ons maar moet sien.  Goosen maak ook ‘n welkome terugkeer na sy besering tydens Bokdiens.  Ek is gunstig vir ‘n Haaie oorwinning, hulle rus wel ‘n paar Bokke, maar die diepte in hul geledere behoort genoeg slaankrag te he.  Jean Deysel is die instaan kaptein in Bismarck se afwesigheid.

Die ander derby is die Bulle wat Kaap toe kom om self ‘n aantal jongelinge van die Stormers te trotseer.  Gio Aplon maak sy terugkeer en Sailosi, die eiland afstammeling, vorm ‘n middeveld kombinasie met Juan De Jong.  Die Stormers het voor die breek hul mooiste rugby van die seisoen ten toon gestel en mag dalk nog net ‘n paar spanne se harte breek.  Die Bulle aan die ander hand het self ‘n gelaaide span met Pollard op losskakel wat hopelik sy droom seisoen kan volhou.  Jan en JJ is in die senterpaar wat deur die Stormers in toom gehou moet word.  Ek dink die blou masjien is beter op papier, maar as die Stormers kan voortbou op vorige vertonings het ons ‘n spektakel op hande.  Ek gaan hier die Kaapse manne met die tuisvoordeel as die oorwinnaars kroon.

Die Leeus skop die plaaslike spanne se aksie al Vrydag aand af teen die Rebels en hulle sal baie hoop in Marnitz Boshoff plaas.  Hy het die seisoen van krag tot krag gegaan en soos ‘n wilde sampioen uitgeskiet.  Die Leeus sal die seisoen wil sterk afeindig om momentum te bou vir die toekoms.  Hulle het ‘n sterk span aangekondig en sal graag nog mooi rugby wil voorsit.  Ek “tip” die Leeus om hul neuse voor te kry in die stryd.