John se Opebrief Hartroerend

Daar is net drie van die Suid-Afrikaanse spanne aan diens in die naweek se Super Rugby met die Cheetahs en Bulle wat ‘n blaaskansie neem.  Daar is geen plaaslike derby nie en slegs buitelanders word onthaal.

Die Haaie gaan Saterdag oggend (SA tyd) hul treurmale voortduur teen die Hurricanes wat geen genade vir hul teenstanders toon nie.  Hulle le ver bo enige ander span en het nog net een verloor onder die belt.  Die Haaie het ‘n onervare skakelpaar en ten spyte van senior spelers se terugkeer sien ek nie hoe hulle enigsins vir die Canes ‘n bedreiging gaan inhou nie.  Die Haaie het tans meer sukses van die veld af met nuwe speler-aankopies en in hul finansiele state, maar ongelukkig is dit nie wat die toeskouers vreugde verskaf nie.  John Smit se ope brief was hartroerend, maar terug in die realiteit is dit die telbord wat saak maak.

Die grommige Leeus trotseer die Highlanders wat ook ‘n goeie rekord tot dusver het, maar hulle moet tred hou met die Hoeveld.  Die Leeus het die Bulle lelik skrik op die lyf gejaag verlede week en kon net sowel die sege beklink het.  Dit sal egter die Leeu-kamp hoopvol maak om die Highlanders te troef.  Die Leeus is van die beter spanne om in aksie te aanskou en hopelik duur dit voort.  Ek voorspel ‘n oorwinning vir die manne van Hillbrow wat weer op tuisbodem is en die Gautengers se vrees vir misdaad vir twee ure vergete laat.

Die Stormers is tuis teen die reisende Brumbies, dit na hul loesing verlede week teen ‘n onderpresterende Cheetahs.  Die Nuweland getroues sal weer in getalle opgdaag, maar die Stormers sal hul sokkies moet optrek om vir verlede week se flater te vergoed.  Daar is nog kwel oor Juan de Jongh se besering maar yster Etzebeth is terug om die Aussies te kasty.  Niks minder as ‘n vyf punte sal voldoende wees vir die Kapenaars nie, want Brumbie en Australie rugby is in ‘n diepe afgrond.  Die vraag is egter of die Stormers nog weet hoe om genoegsame driee in te ruig?