Indië Domineer, Proteas Kry Seer

Indië het Suid Afrika vandag laat les opsê in Melbourne. Die verdedigende kampioene het wedstryd 13 van die IKR Wêreld Beker toernooi met 130 lopies gewen danksy ‘n puik span poging. Suid Afrika sal terug kyk na verbroude vang kanse en slegte roepe tussen die penne.  Indië was vroeg in hul kolfbeurt onder druk. Met slegs 9 lopies op die telkaart het de Villiers met ‘n briljante kolskoot ontslae geraak van Rohit Sharma. Ten spyte van ‘n gunstige kolfblad het Indië aanvanklik gesukkel om die lopie tempo te verhoog.  Suid Afrika se onvermoë om in die middel-beurte paaltjies te neem, vererger deur Philander se beseering, asook ‘n verbroude kans om ontslae te raak van Dhawan met sy telling op 53, het toegelaat dat Indië twee groot vennootskappe aanmekaar slaan.

Die tweede paaltjie-paartjie van Dhawan en Kohli het 127 lopies bygevoeg in 24.2 beurte en sodoende ‘n goeie fondasie gelê.  Met die val van die tweede paaltjie het Indië hul voet op die versneller gesit, Dhawan en Rahane het in 16.3 beurte 125 lopies vir die derde paaltjie aangeteken.  Parnell het veral deurgeloop onder die Indiese kolwers.

Sy 9 beurte het  85 lopies gekos.  Die res van die Protea boulers het mooi terug baklei en in die laaste 10 beurte gereeld paaltjies laat kantel.  Imran Tahir was die beste van die Protea boulers en sy 10 beurte het net 48 lopies gekos.

Indië het laat in hul beurt gestruikel maar kon nogsteeds ‘n intimiderende 307/6 op die telkaart plaas.  Shikhar Dhawan het uitgeblink met 137 lopies en is goed onderstuen deur Virat Kohli met 46 en Ajinkya Rahane met 79.  Die Protea kolwers moes met n groot aanslag vorendag kom om die teiken te haal.  Quinton de Kock het vroeg in sy beurt al terug gestap paviljoen toe vir net sewe lopies.

Kort voor lank het Amla ook die stappie terug kleedkamer toe aangedurf. Amla kon net 22 lopies bydra voor hy gevang is deur Mohammed Shami nadat hy ‘n korter bal van Mohit Sharma probeer haak het.  Faf du Plessis en AB de Villiers het begin herbou en dit het gelyk of daar nog hoop is vir die Proteas.  Die Indiese draai boulers het terug baklei deur die lopies te laat opdroog, ‘n plan wat mooi gewerk het vir hulle toe AB de Villiers n waaghaalsige tweede lopie probeer neem het en uitgehardloop is vir 30.

AB en Faf het 68 lopies bymekaar gemaak voordat die vennootskap in die 23ste beurt met die telling op 108 verbreek is.  Die res van die Protea middel-orde kon nie daarin slaag om vennootskappe bymekaar te sit nie.  Du Plessis is skaars 6 beurte later uitgehaal vir 55.

Duminy het ook net 16 balle trotseer voor hy deur Ashwin verwyder is. David Miller het goed gelyk tot hy ook 13 balle later uitgehardloop is vir 22.  Die Proteas se laaste 6 paaltjies het geval vir slegs 44 lopies en Suid Afrika is almal uit gehaal vir 177.  Die oorwinning plaas vir Indië in staat om bo aan die groep te eindig en sodoende n gunstige kwarteindstryd te he.

Die Proteas sal hul wonde lek en wil seker maak dat hulle op alle silinders vuur wanneer hulle in hul volgende wedstryd Vrydag, die 27ste Februarie, in Sydney teen die Wes-Indiërs te staan kom.