Heyneke ‘n “crowd pleaser”?

Die Haaie en Cheetahs het my toe heeltemal teen die verloop van die spel verras deur hul gedugte teendstanders te laat les op se.  Die Haaie het dit reggekry met 14-man op die veld, na Jean Deysel se oomblik van waansin, en op ‘n stadium selfs 13-man.  Dit beaam net weer die gedugte aard van die kompetisie die seisoen.

Soos ek besig is om te tik, draf die Haaie op die veld vir hul laaste toer wedstryd in Australasie teen die Blues.  Jake maak staat op kontinuiteit en slegs Jacques Botes kom in die begin 15-tal in, in die plek van Deysel.  Ek gaan die Haaie die gunsteling beskou, dink hulle het meer as genoeg karakter ten toon gestel verlede week om dit te regverdig.

Die Bulle speel gasheer tot die Brumbies en ek vermoed hulle sal die nodige punte opstapel om die wilde perde te tem.  Die rus wekie sou hulle goed gedoen het en daarom reg wees om op alle silinders te vuur, terwyl die Brumbies moet herstel na hul loesing verlede week teen die Cheetahs.

Die Leeus meet kragte met die Force en eks jammer om die doemprofeet te wees, maar die Leeus het ‘n berg voor hulle om te klim.  Johan Ackerman het ook omtrent al sy spelers se name in ‘n hoed gegooi en van een tot vyftien uitgetrek, as daar na omtrent die dosyn veranderinge gekyk word.  Die Leeus administrasie het ook ‘n nuwe bladsy omgeslaan deur Rudolph Straeuli aan te stel in die plek van Manie Booysen as nuwe hoof uitvoerende beampte.  Ek hoop nie hy durf soorgelyke kamp staaldraad sages aan of jaag die spul in Hillbrow in vir ‘n spanbou sessie nie.

Dan die derby van die naweek is die Stormers tuis teen die Cheetahs.  Beide spanne kan mooi rugby opdis en hopelik speel die weer saam om wel dit ten toon te stel.  Ek gaan die Stormers, nie noodwendig as oorwegende gunsteling nie, maar wel ‘n kortkoppie gee bo die Cheethas.  Hulle het die tuisvoordeel by die getroue Nuweland en die terugkeer van senior Bokke in Jean de Villiers en Schalk Burger.  Dit behoort opsig self ‘n reuse impak te he.

Laastens het Heyneke sy bok groep die week aangekondig.  Let wel daarop dat die ‘n voorlopige groep is en geen Europese gebaseerde spelers oorweeg word nie. Dus geen Habana, Steyn, Pienaar, Louw, ensovoorts nie.  My vraag is egter of Heyneke ‘n “crowd pleaser” is.  Ek wonder dit na aanleiding van verlede jaar se jaareind toergroep en ook nou sy interim groep.  Hy beloon blykbaar spelers wat goed vertoon het in die plaaslike kompetisie, maar dit vat ‘n blinde man met ‘n stok om te sien dat geen van hulle gaan speelkans kry nie.  Verlede jaar is onder andere Aplon, Schreuder en Ntubeni saamgeneem omdat hulle ‘n goeie Currie Beker beleef het, maar niks anders as sakke vasgehou het nie.  Hierdie keer is dit Hendricks, Oupa Mohoje, Boshoff, Lood de Jager, ensovoorts wat ‘n soortgelyke beloning ontvang.  As daar egter na die werklikheid gekyk word gaan ‘n oudergewoonte stoere senior span uitgelees word op die wedstryd dag.  Daar sal nog baie tyd wees om weer die onderwerp aan te haal, maar in my oe is Heyneke ‘n “crowd pleaser” en is sy bok span reeds ingepotlood vir die toetse wat voorle en is hy besig om die publiek tevrede te stel.  Reg of verkeerd, kom ons wag en sien.