Haaie In Diep Waters

My resultate, soos verlede week hier voorspel, was toe so akkuraat soos ‘n sakrekenaar se tafelsomme.  Die Brumbies het so op die hond se rug die Chiefs geklop, terwyl die Haaie se vinne net-net bo stormwaters uitgesteek het om oor die Highlanders te seevier.  Dit was tipiese naelbyt resultate en hopelik sien ons soortgelyke klipharde rugby die week om Super Rugby se status as die hardste plaaslike kompetisie  gestand te doen.

More oggend huisves die Crusaders die toerende Haaie.  As daar nou een span is wat weet hoe om suksesvol te wees in “finals” rugby is dit nou die manne van Christchurch.  Hulle het in die verlede al alle kritisie, wetenskaplikes en dalk ook hul eie ondersteuners verkeerd bewys.  Die Haaie het ook al die uitspeelrondtes gehaal, maar weet nie hoe om die uitdagings te oorbrug nie.  Die Saders verstaan wen en as Jake nie ‘n paar glibberige hase in sy hoed het nie, gaan dit  maar broekskeur gaan.  My hart klop swart en wit, as trotse Suid-Afrikaner, maar my kop se die rooi en swart gaan hier die septer swaai. 

Die Haaie het vir Pat Lambie terug in die nommer tien trui, na sy goeie vorm van die bank af verlede naweek, en Fransie Steyn skuif na binnesenter.  S’bura Sithole, wat tot op hede ‘n openbaring was in die middelveld, mis uit op die beginspan met JP Pietersen wat weer vleuel toe skuif en Paul Jordaan op buitesenter.  Die Haaie is op volsterkte en moes net sonder die dienste van Beast klaarkom wat tuis gebly het.  Die Crusaders het ook al hul groot name betyds terug gekry vir die wedstryd en Keiran Read, Israel Dagg, Dan Carter en Richie McCaw is in die beginspan benoem.

Die ander stryd word bepaal deur “an all Aus affair”.  Die Waratahs, wat die span op vorm van die toernooi is, wat kragte meet met die Brumbies.  Die Tahs in my opinie moet die stryd eerder verloor as wat die Brumbies dit moet wen.  Dit is egter ‘n derby en “finals” rugby het nie bonuspunte nie, die span met die meeste punte op die bord is die oorwinnaar.

Brumbies kaptein, Ben Mowan, beweer hulle verdien die Super titel, aangesien hulle so hard gewerk het die afgelope drie jaar.  Ek het nuus vir hom, die span wat die hardste gewerk het is nie meer geregtig op die titel as ‘n ander nie.  Die Leeus werk ook al ‘n paar jaar uiters hard, nie om net solvent te wees nie, maar dit waarborg hulle nie ‘n plek in die finaal nie.  Die een wat op die dag opdaag en sy kanse gebruik is gewoonlik die wenner – cliché dalk, maar ‘n feit soos ‘n zebra met swart en wit strepe!

Die Tahs moet die stryd beklink en dan is dit ‘n Tahs versus Saders finaal in Australie volgende week.  Net om die haai tussen die sardyn los te laat, sou die Haaie wen en sou die Brumbies die Tahs troef het die Haaie volgende week ‘n tuis finaal op Growth Point Kings park in Durban!