Curriebeker Eindstryd: Leeus in Nuweland-Kuil

Die wag is byna verby!  Dit om te bepaal wie die amptelike kampioene van die ABSA Currie Beker kompetisie vir 2014 gaan wees.  Sonder twyfel kan daar gese word dat die beste twee spanne van die jaar se weergawe wel in die finaal gaan koppe stamp.  Die vraag is net wie gaan die laaste hekkie kan oorkom om met die louere en ook “bragging rights” vir die volgende jaar weg te stap.

Die Westelike Provinsie het die Bulle verlede week getroef, terwyl die Leeus opgedaag het maar wag nog vir die Haaie om dieselfde te doen.  Beide afrigters, Alistair Coetzee en Johan Ackermann, het minimale veranderinge in hul semi-finaal vyftientalle aangebring.  Jaco Taute neem sy plek in op binnesenter in die enigste verandering in die WP se beginspan en Gerbrandt Grobler wat as slot op die bank ingesluit is.  Die Leeus het net vir Jacques van Rooyen op die bank ingesluit vir ‘n 5/2 bank.  Die Leeus het die besluit sekerlik geneem om hul dominansie in die skrums te beklemtoon.

Daar gaan twee kritiese tweegevegte wees.  Die eerste is die in die skrum, maar meer spesifiek in die voorry.  Die Leeus het weekliks hulle oorhand hier bevestig en die WP was by tye maar wankelrig.  Ek laat natuurlik glad nie die rol van die skeidsregter hier buite rekening nie, Craig Joubert se interpretasie sal ‘n kardinale effek op die wedstryd he.  Die Leeus bring ook ‘n vars voorry op in die tweede helfte wat ewe bekwaam is in die afdeling.

Die ander tweestryd gaan tussen die los trio’s wees.  Die Leeus se losvoorspelers in Whiteley, Minnie en Kriel jag soos ‘n pak opgeleide dingo’s van Australie saam.  Hulle is ewe bekwaam met bal in hand soos wat hulle klou aan ‘n losbal soos ‘n kind wat sy eerste speelding ontvang het.  Whiteley en Kriel kan ook op enige gegewe oomblik ‘n lyn breek en die skarrel verdediging onder druk plaas.  Die WP het self ‘n bekwame los trio in Carr, Rhodes en Elstadt.  Die terugkeer van Carr is ‘n groot sug van verligting vir die afrigtingspan en ook die toeskouers. Notshe het ‘n groot seisoen, maar die “Carr” is in ‘n klas van sy eie en hy is die gom wat die WP pak en agterspelers aanmekaar hou.

Die volgende twee faktore kan egter nie voor ‘n blinde oog gegooi word nie.  Dit is die akkuraatheid van beide losskakels, Demetri Catrakilis en Marnitz Boshoff, se skopskoene.  ‘n Drie-punter na ‘n  kant toe kan die wedstryd beklink en hier sal ‘n opportunistiese skepdoel ook ‘n welkome geskenk soos reen in die Karoo wees.  Die laaste faktor wat die wedstryd kan beklink is die WP se agterste driehoek.  Die kombinasie van spoed en vaardighede is hier meer as wat daar in ‘n Ferrari-renmotor en sy renjaer is.

Dis ‘n moeilike een om te voorspel, maar ek dink wel die WP se getroue toeskouers is effens meer benoud as hul eweknie van die Goudstad.  Ek wil nie die cliché gebruik dat die span wat dit die meeste wil he nie, maar die span wie se uitvoering die mees akkuraatste gaan wees sal seevier.  Dit in die lig gesien dat beide spanne met die bal in die lug die skares op hul voete gehad het en ons hoop weer sal he.  Die grootste teleurstelling sal wees as beide spanne ‘n konserwatiewe benadering of “Finals” mentaliteit gaan aanneem deur in hul dop te kruip.  Die Nuweland skare se krete moet egter ook nie lig geag word nie…WP jou lekker ding!