Currie Beker Aksie Skop Af

Die oudste en gesogste, en in my opinie mees opwindende, rugby kompetisie skop vanaand af in die “Baai”.  Die Currie Beker is hier en ek geniet dit as gevolg van die hope jong talent wat deursyfer, ten spyte van party kritici wat beweer dis afgewater sonder talle Springbokke.  Daar is wel ‘n paar Springbok baadjie draers te bespeur, maar grotendeels omdat hulle deur “coach” Heyneke oorgesien is of omdat hulle terugkeer van langtermyn beserings.  Siya Kolisi, JJ Engelbrecht en Coenie Oosthuizen (almal gekontrakteerde Bokke), sowel as Marnitz Boshoff, Eben Etzebeth en Frans Malherbe sal hul teenwoordigheid laat geld in die plaaslike kompetisie.

Die Westelike Provinsie reis na die Windstad om die nuwelinge (aangesien hulle 15 jaar gelede teen die WP meegeding het) in die kompetisie te trotseer.  Luke Watson maak weer sy terugkeer vir die Oostelike Provinsie of deesdae meer bekend as die Kings.  Die WP word gelei deur hul nuwe kaptein Juan de Jong, ook ‘n Bok wat guns by Heyneke verloor het.  Jong Turke wat hul buiging sal maak is Robert du Preez, Maties se Varsity Cup held, en Seabelo Senatla wat afkomstig is uit die sewes geledere.  Die Kings het ook ‘n paar nuwe gesigte, maar eerder trekvoels as jong kuikens wat hul vlerke probeer sprei.  Gary van Aswegen, CJ van der Linde en Kevin Luiters sal hul buiging maak in die rooi en swart gewaad.  Ek verwag ‘n aanskoulike handelsmerk rugby van die Kings onder Carlos “the King” Spencer, hul breier, maar vermoed die WP het genoeg ervaring en kwaliteit om hulle die onderspit te laat delf.

Die Haaie gaan diamante delf in Kimberley en hulle het telkemale met ‘n groot gat in hul sak terug gekeer.  Die Haaie het ‘n nuweling op skrumskakel, Cameron Wright, en met skakelmaat Fred Zeilinga is hulle die mees onervare in ‘n Super agterlyn.  Tera Mtembu maak sy buiging as kaptein en maak ook ‘n bietjie geskiedenis deur die eerste nie-blanke kaptein te wees van die manne in “swart en wit”.  Die Griekwas het ook ‘n paar nuwe trekvoels in hul geledere en sal baie staatmaak op die betroubare skopskoene van Francois Brummer en Nico Scheepers.  Die Haaie mag hier die oorhand he, maar ek het my geld op die Kwas wat meer voorbereidingstyd gehad het en onder nuwe breier Hawies Fourie nie sommer oorrompel word op hul eie diamant hope nie.

Die gekweste Bulle, na hul treurige Super toernooi, reis oor die Jukskei om die Leeus aan te durf.  Die Leeus het weer lelik onder die beseringspook deurgeloop die week, maar ten spyte daarvan ‘n redelike sterk span aangekondig.  Warren Whiteley sal van voor af lei en die “Bos” Boshoff sal weer die punte opstapel met elke geleentheid.  Die Bulle kry strydos Deon Stegman terug na ‘n besering en sal baie uit sy senioriteit put as leier en jongeling Burger Odendaal maak sy buiging in die  middelveld saam met JJ Engelbrecht.  Die Bulle stuur self ‘n sterkspan in die veld met die afwesigheid van ‘n paar Bokke, maar ek gaan hier ‘n brawe roep  maak en die Leeus as oorwinnaars tip.  Hulle het ‘n goeie Currie Beker rekord onder Johan Ackermann en enige span wat na Hillbrow moet reis sal effens geintimmideer arriveer.

Die hoofwedstryd van die naweek is die Pumas wat die Cheetahs huisves. Ons gaan die jaar meer as een katgeveg op hande he, waarvan hierdie die eerste is.  Die Pumas het opnuut gekwalifiseer vir die kompetisie en op eie bodem is hulle ‘n bogger.  Corne Steenkamp, die Pumas se lojale kaptein, beweer hulle wil nie net ‘n melkkoei in die kompetisie wees nie en veral hulself op tuisbodem laat geld.  Die Cheetahs het ‘n redelik onbekende agterlyn met heelwat Bokke afwesig, meer as wat hulle kumulatief in die afgelope dekade gehad het.  Die Cheetahs se nuwe kaptein Torsten van Jaarsveld beweer hulle het in die handjie senior spelers genoeg leierskap om suksesvol te wees.  Cheetahs gaan maar lendelam lyk in my opinie onder nuwe afrigter Rory Duncan, in Naka se afwesigheid, maar miskein is dit juis wat hulle benodig.  Ek gun egter die Pumas ‘n goeie afskop en dink hulle gaan as oorwinnaars van die veld stap.