Cheetahs, Haaie In Nie-Amptelike Kwarteind

Die meeste van ons het seker al vergeet dat daar nog ‘n Currie Beker kompetisie is wat in die agtergrond afspeel.  Dis in die skadu van ‘n veel groter skouspel die Wereld Beker wat in Engeland plaasvind. Die plaaslike kompetisie is wel sagkuns voortgesit en hierdie week is die laaste groep rondte wat gaan plaasvind.

 

Die Westelike Provinsie speel gasheer vir hul buurman, die Oostelike Provinsie.  Die WP het minimale veranderinge, maar tog ‘n bloedjonge wat sy debut op senior vlak gaan maak. Jongeling Leolin Zass trek die nommer elf trui aan met Dillyn Leyds wat die laaste vesting vul in Kolbe se afwesigheid.  Juan de Jongh lei die troepe uit die middelveld en Justin Benn en Jaco Taute is op die bank ingesluit. Ronnie Cooke neem die leisels oor vir die Kings in die afwesigheid van staatmakers Tim Whitehead en Steven Sykes.  Die Kings se seisoen word grotendeels oorskadu deur finansiele kwessies uit die raadsaal. Saru het sy steun aan hulle verleen en hopelik is dit binnekort iets van die verlede anders gaan ons kleinboere in die blink gepoetsde Super-toernooi sien, eerder as Kings.  Die WP sal die kragmeting in ‘n japtrap afhandel.

Die ander Vrydagaand bepaling sien die Bulle wat reis na die Mbombela Stadion om die Pumas te trotseer. Dit behoort bloot ‘n formaliteit vir “Chuck” Nollis se troepe te wees, met slegs twee nederslae tot dusver. Die Bulle kry vir Stegmann terug, na hy verlede week op kort kennisgewing teen die Kings onttrek het. MJ Mentz het vier verandering aangebring wat insluit haker Francois du Toit wat sy plek terugneem en Rudi Mathee en Marnus Schoeman onderskeidelik slot en flank.  Agterlangs is Bernado Botha die enigste nuwe gesig in ‘n geskommelde agterlyn.

Die bepalende wedstryd die naweek is die Cheetahs wat die Haaie onthaal in ‘n moet-wen stryd vir beide. Die seevierende span sal die semi’s haal, met die verloorders wie se toernooi tot ‘n einde kom.  Beide spanne was maar bra gemiddeld die afgelope seisoen en sal tog wil kwalifiseer om hul hoop lewend te hou. Die Cheetahs se verandering is slegs voorlangs met die mees merkbaarste die terugkeer van Boom Prinsloo. Die Haaie afrigtingkorps het die opwindende Garth April op heelagter ingesluit met die hoop om ‘n aanvallende wapen van agter te he. Die oorwinnaar hier sal die onoorwonne Leeus moet aandurf en ek waag ‘n  moeilike voorspelling, maar ek dink die Haaie gaan die oorhand he.

Die laaste, maar mees onbelangrikste wedstryd is die Leeus se B-span wat die minderwaardige Griekwas op eie bodem gaan vasvat.  Die Leeus het te veel verandering vir die hoeveelheid spasie wat ek het en die enigste noemenswaardige nuus is Warren Whiteley wat op kort kennisgewing weer die leisels as kaptein gaan oorneem. Die Griekwas sal afskeid neem van hul breier Hawies Fourie, wat die Diamantstad sal verlaat vir die Eikestad om die Maties verder te brei. Die Leeus, met die spelpeil wat hul het, sal nogsteeds die Griekwas troef, alhoewel hulle ‘n laaste poging sal aanwend om enige eer te probeer herstel.