Boktoer Raaisel

Bok-afrigter, Heyneke Meyer, het sy eerste 22-tal vir die jaareind toer in Europa aangekondig en behalwe vir die nommer 15 op Pat Lambie se rug, is daar nie rede om wenkbroue te lig nie. Dat Bakkies Botha, wat in die 2011 Wêreld Beker laas Bokdiens behartig het, se naam nie teenwoordig is nie is wel ‘n skok. Ek kan nie help om te wonder wat is die doel met die veteraan nie, behalwe die ooglopende antwoord van ervaring.

JP Pietersen en Jaque Fourie bring welkome hoeveelheid toetse op hul onderskeie internasionale kerfstokke na die Millenium Stadium in Cardiff toe. Frans Malherbe maak sy buiging as groentjie in die regterkant van die voorry en die Swartlander Pieter-Steph du Toit sal syne van die bank af maak. Dit bring my ook by die vraag: Wat is die langtermyn plan met Coenie Oosthuizen? Hy word opgerig as die volgende vaskop, maar tog kry kort-sokkie Malherbe (ek is tog ‘n voorstaner van hom) die regmerkie. Coenie is moontlik die beweeglikste stut in SA rugby en steel selfs meer balle as Heinrich Brussouw op ‘n goeie dag. Ek is bekommerd dat die oortuiging hom mag weerhou om die volgende logiese opvolger in Beast se plek te wees. Op die ou einde word hy dalk slegs ‘n waardige “speler nommer 23” met ‘n posisionele-identiteitskrisis.

Ek is jammer om die aap uit die mou te laat, maar spelers soos Scarra Ntubeni en Louis Schreuder is sekerlik daar om ekstra hande te verleen as daar sakke gedra moet word. Ek het ‘n voëltjie hoor fluit dat die plekke eintlik gevul moes wees deur Chiliboy en Jano Vermaak. Weens ongeskrewe kwota regulasies mag daar slegs ‘n geselekteerde aantal oorsese spelers nader geroep word vir Bok eer. Die name van Gio Aplon en Marcel Coetzee kan ook by daardie lys gevoeg word, al word daar gesê dat hulle erkenning kry vir konstante vertonings in die Currie Beker is dit bloot ‘n gesig koop aksie.

Dit kom neer op die vraag, wat is die doel van die Jaareind toer en is daar regtig plek daarvoor op die reeds besige kalender met nuttelose eenmalige toetse? Sou daar nie meer baat gevind word deur spelers op ‘n verlengde rehabilitasie program en minder intense voorseisoen te plaas nie?

Wen is sekerlik die alfa & omega, maar wil ons ervare spelers en leiers soos Jean de Villers, Fourie du Preez, Jannie du Plessis, ens. nog tot 2015 in die Groen & Goud sien, gaan daar beter na hulle omgesien moet word. Die manne met 50+ toetse vlug nie net Japan toe vir die Yen nie, maar ook om na hul liggame te spaar aangesien hul unies en werkgewers tuis dit nie as ‘n prioriteit beskou nie. Hulle speel tot helfte minder wedstryde en oefen slegs beperkte tye. Sushi is sekerlike aangenaam op sy tyd, maar ten koste van ‘n skaaptjoppie!?

Ek sou die toer as ‘n dorsvloer gebruik het om die koring van die kaf te skei, die jong baarde hard te maak en om senior spelers, soos Jannie du Plessis wat genadiglik beseer is na twee seisoene se onophoudelike rugby, gerus het. Ek sê nie los die ou hande by die huis nie, maar wees selektief en speel hulle op ‘n noodsaaklike basis. Hulle moet onnodige oefentyd op die velde vermy en op hul eie program wees en ad hoc by die sessies betrek word om die jongelinge tou wys te maak. Gebruik hulle om van die veld af om ‘n kultuur te kweek, sessies aan te bied en leiding te gee met spanbou aksies – dit tipe ervaring word nie in geseëlde 200g blikkies by die naaste kettingwinkel verkoop nie!