Bokke vs Braveheart

Die tweede toets op die Jaareind toer word Sondag gespeel, Sondag van alle dae, ek wens iemand kan vir my ‘n logiese verduideliking vir dit verskaf? William Wallace van Braveheart gaan ‘n begeesterde toespraak moet lewer om die klomp Skotte bo hul vuurmaakplek te laat kompeteer.

Meneer die hoofafrigter het sy span bekend gemaak, maar eintlik weet hy self nog nie hoe dit gaan lyk nie. ‘n Rotasie beleid is blykbaar toegepas, maar eintlik behels dit Beast en Bismarck wat rus. Bismarck dalk omdat hy weer ‘n kaart gevaar is, dit gebeur mos maar elke 3 wedstryd of so, en Beast verdien dit. Dit is nie werklik ‘n verswakking in die statuur van Adriaan Strauss nie, ook as onder-kaptein aangewys vir die stryd, en toets veteraan Guthro Steenkamp.

Morne Steyn is eintlik ‘n noodsaaklike uitlating, maar volgens my ‘n bedekte seën, hy het binne die 1ste 7minute teen Wallis nie minder nie as 3 verdedigingsfoute begaan. Ek vermoed dis ook waar hy sy rug beseer het toe hy te vinnig moes omdraai toe een van die Walliese drake verby hom is. Pat Lambie kry ‘n welverdiende begin as hoofskakel en ek hoop van harte hy bereik die peil wat hy vir die Haaie het. Hy gaan nog heelwat aan sy stelskoppe moet werk om die trui syne te maak. Willie le Roux is weer in die laaste vesting en sodoende mag ons dalk weer ‘n paar gansdansies, bokspringe of selfs ‘n galoppie of twee aanskou.

Bakkies se insluiting was seker een of ander tyd te verwagte, so ‘n senior man kan seker nie uit sy massiewe Europese kontrak vrygestel word sonder om sy voet op ‘n toetsveld te sit nie. Ek sou egter hom van die bank af gespeel het en vir Eben of selfs vir Pieter-Steph in die 4-trui gespeel het. Eben het ook al heelwat rugby gespeel die afgelope twee seisoene en Pieter-Steph is so gretig soos ‘n skaaphond wat vir ‘n week in ‘n klein erf toegemaak was. Ag flip, Flip, sal sekerlik elke toets begin aangesien hy tans die enigste ervare no. 5 slot in die Bok-groep is, iets wat van die begin af nie vir my sin gemaak het nie. Heyneke beweer egter Pieter-Steph is die opvolger, maar hy het in die week ook laat val dat Eben ook daar getoets gaan word.

Willem Alberts was die week in watte toegedraai en daar word tot op die laaste nippertjie gewag vir sy fiksheid. Ek sou hom maar uit die staanspoor gerus het en vir Siya Kolisi net begin het, hy het nog geen span in die steek gelaat nie.

Frans Malherbe het glad nie uit sy diepte gelyk verlede week nie en ek glo hy sal net van krag tot krag gaan hoe meer tyd hy in die toets arena kry.

Ek hoop om vir Jaque Fourie en JP Pietersen meer in aksie te sien, dink hulle het gesamentlik minder aksie as Coenie van die bank af gekry, ten spyte van sy geelkaart. Die man-in-die-middel het hier volgens my ook die kluts kwyt geraak en het gereeld die 2de of 3de fout by die losgemale geblaas, nie eers te praat van die twee geelkaarte in die voorry nie. Jaque se ondervinding kon definitief bespeur word in die organisering in die agterlyn en ook op verdediging.

My voorspelling, as William Wallace met sy geverfde gesig en manlike rompie, se toespraak nie gaan werk nie gaan die Bokke die toets op ‘n drafstap in 4de rat met 17 punte wen.