Bokke Steek die Draak

Die laaste wedstryd van ‘n elle lange Suid-Afrikaanse rugby seisoen is uiteindelik in sig.  Die Springbokke durf die Drake van Wallis in hul laaste Europese toerwedstryd aan.  Dit wat vir die Bokke na bloot ‘n formaliteit mag lyk, is weer ‘n groot uitdaging vir die Rooi Drake.

Heyneke het slegs vyf veranderinge aan sy beginspan aangebring na verlede naweek se oorwinning oor die Ita’s.  Die twee vleuels is geen verrassing nie, aangesien Habana en Pietersen weer gaan aanmeld vir onderskeidelik die Euro in Frankryk en die Yen in Japan.  Hendricks en Mvovo sal hul poste vul.  Dit is jammer dat ons nie vir Senatla in aksie gaan sien nie, maar hy is vrygestel om meer woema aan die Blitzbokke te verskaf.  Voorlangs neem Bismarck weer sy pos tussen die voorrye in en Beast aan sy linkersy, dit onderskeidelik in die plek van Strauss en  Nyakane die twee Vrystaters.  Coenie behou sy posisie op vaskop, na ‘n dappere vertoning verlede week in die skrums.  Hy het ook die interne Bok toekenning ontvang vir meeste “rucks” geslaan sowel as meeste duikslae uitgevoer – en dit van ‘n vaskop, merkwaardig!  Willie neem weer sy posisie op heelagter in, hy vervang vir Goosen wat ook weer klub diens gaan doen in Frankryk.  Dit maak dan plek vir De Allende wat die middelveld en vleuel posisie sal dek as daar ‘n besering is.

Lambie en Reinach is die skakelpaar in vorm en hulle behou kontinuiteit saam met die middelveld duo van De Villiers en Serfontein.  Bakkies het sy uittrede uit internasionale rugby aangekondig en ook so net betyds, want daar is ‘n paar jong knape wat die pap dik aanmaak.  Heyneke het die week dit baie duidelik gemaak dat De Villiers die enigste naam is wat reeds neergeskryf is vir volgende jaar se Wereld Beker, dit nou mits hy geen skete het nie.  Ek dink net hy het doelbewus versuim om Matfield se naam ook te noem, hy is sekerlik naam nommer twee.

Wat die Walliesers aanbetref glo hulle die is hul kans om die Bokke te troef. Ek weet nie waar die bravade vandaan kom nie, want hulle het die afgelope maand slegs nog vir Fiji geklop en dit naelskraaps.  Hul het seker energie uit die Wallabies se kortkoppie oorwinning geput, maar dan is dit nou nie die beste Aussie vertoning wat ek in jare gesien het nie.

Ek dink die Bokke gaan met ongeveer 10 punte seevier, maar die telling gaan vleiend wees vir Warren Gatland se manne in rooi. Dit gaan maar grotendeels wees as gevolg van ‘n lang jaar, eerder as wat dit die Walliesers se vernuf gaan wees.