Bokke kan seevier, MAAR?!

 

Die Bokke het genadiglik die semi-finale gehaal na ‘n naelskraapse oorwinning oor Wallis en Heneyke Meyer se pos was vir nog ‘n week veilig. Die vraag op almal se lippe, kan hulle die welslae herhaal teen ‘n All Black span wat sy eie standaard bepaal? My antwoord, baie soortgelyk aan die van ‘n tienerdogter aan haar ma – “ja, MAAR…”. Hier is my MAAR.

Die Bokke was nie baie oortuigend met hul sege oor die Walliesers nie, maar dit was genoeg op die regte tyd om nog ‘n week beker hoop te koester. Hul spelpatroon op die dag was oormatig konserwatief, daar was geen aanvalle buite die tweede kanaal geloods nie. Die buite agterspelers het die bal halftyd en na die tyd vasgehou, anders het hul net na die wedstrydbal gesmag. Die baldraers was een-een, staties en te diep agter die voordeellyn. MAAR die feit dat Fourie en Duane die laaste kooltjie in die as tot ‘n vlam kon inspireer wys dat die Bokke karakter het om dit deur te trek as dit saak maak. Die hoop dat hul wedstryd meer ‘n uitklop wedstryd gesimuleer het as die van die All Blacks in ‘n stormloop oor die verplukte Hane, maak ook die gemoed sterker.

Die weervoorspellers vermoed redelik neerslag van bo en dit dui weer op gunstige omstandighede vir die Springbokke. Hul onvermoee of doelbewuste aanslag om die bal tot die voorspelers te beperk, mag in die toestande eerder tot hul voordeel wees al dan nie. Jy kan egter nie ‘n  meter op ‘n slag vanuit jou eie helfte tot by die manne in swart se doellyn vorder nie en hier sal Pollard en Willie le Roux se taktiese skopwerk akkuraat moet wees.

Gepraat van Willie, hy skuld die Groen en Goud ‘n grote. Almal is bewus van sy bekwaamheid met die bal in die hand, maar sy leemte in die lug sal deur ‘n uitgeslape Dan Carter en Aaron Smith met lugskoppe onder die vergrootglas geplaas word. Willie sal meer moet betrokke raak by die spel en sy vleuels die geleentheid gee om die witlyn te besoek. Habana se  motivering opsigself om sy vinger in die lug te wink na ‘n drie, moet baie gewig dra. Sou dit nie in die kragmeting wees nie, die hoop om nog ‘n kans oor ‘n week te he.

Die individuele briljantheid van meer as een speler op die dag. Kom ons wees eerlik, ‘n strafskop hier en daar, selfs ‘n skepskop, sal nie die wa deur die drif trek nie. Dit is natuurlik ook kardinaal dat Pollard wel sy skopskoen blink gepoets het vir die groot stryd. Die Bokke benodig ‘n soortgelyke oomblik as teen Wallis. ‘n Onderskep drie deur JP, ‘n dartellopie deur de Allende of ‘n stromloop deur Lood of Eben word benodig om die Nieu Seelanders te troef. Almal gaan op hul beste moet wees en die bank gaan ‘n enorme impak moet lewer, die van Alberts as standaard.

Die laaste maar is, MAAR jy mors mos nie met die Springbokke nie. Die All Blacks is baie bewus van die feit dat daar een span is wat  hul nommer het. Wanneer dit saak maak is daai nommer al geskakel, die vraag is net of die Bokke braaf genoeg gaan wees om die nommer vroeg al op te soek en nie te laat te los nie. As hul gaan moet opvang rugby speel, sien ek ‘n lang tweede helfte op ‘n nat Twickenham.

My antwoord ‘n baie oortuigende JA, maar daar gaan nie net aan een van die boonste kriteria voldoen moet word nie, maar eerder ‘n volhuis en hul hand gaan sterker as die van Steve Hansen se manne moet  wees. My geld is als op die Bokke, dis ‘n alles of niks wedstryd, lughawe of hotel, vonkelwyn of bitter bier… ok, julle  kry die punt!