Boere Oorlog op Twickenham

Die Iere het toe nie net Heyneke Meyer se kaarthuisie inmekaar laat stort nie,  maar ook die harte van talle geesdriftige Springbok ondersteuners gebreek.  Die vraag is egter of dit ‘n wekroep was met die Wereld Beker volgende jaar in Engeland of was dit oorgerustheid wat in die kamp ingekruip het?

Ek vermoed dit was ‘n kombinasie van die twee faktore.  Ja, ek vermoed daar was ‘n oorgerustheid, want kom ons wees eerlik, die Iere is mos nie veronderstel om ‘n faktor te wees na die magtige All Blacks nie.  Dat dit dalk die bestuur se oe gaan oopmaak betyds vir volgende jaar is wel in hulle hande, want die wekker het afgegaan.  Die vraag is of hulle gaan “snooze” druk of gaan hulle wakker word en die koffie geur in die realiteit ruik!

Hougaardt is gekruisig vir ‘n powere vertoning en ja ek erken hy was swak op die dag, Pollard was nie die wedstryd wenneer soos vroer nie, maar gaan ons elke keer verwag hy moet die leprechaun met die vierblaar klawer wees? Cornal is afgemaak as te stil, maar die bal het nie eers by Serfontein uitgekom nie.  Willie le Roux het gelyk of hy ‘n dwarswind trotseer elke keer as hy die bal kry, want hy het meer die kantlyn aangeval as die voordeellyn.  Die vraag is egter wat was die wortel van die kwaad?

Die antwoord is dat die voorspelers nie gedomineer het nie, hulle het nie die momentum gegenereer soos wat ons gewoond is nie en daarom was daar geen besit vir die agterspelers om mee te baljaar nie.  Dit ten spyte van die feit dat die Bokke steeds die lynstane gedomineer het, behalwe vir die kere wat die Iere hulle met slap riem gevang het met hul truuks en ook het die Bokke ‘n oorhand in die skrums geniet.  Daar was nie effektiewe “strike runners” wat die lyn kon breek nie, die kere wat dit wel gebeur het het iemand die bal op ‘n tweede of derde fase aangeslaan. Dit te danke aan spelers wat te laat uit die blokke was en ‘n  nuwe taktiek wat die buitenste speler eerder die bal probeer dra as die binneste speler wat die veiliger opsie is.  Die Iere het die Bokke ook ore aangesit by die afbreekpunte, die effektiwiteit van Marcel Coetzee word hier bevraagteken en ek dink ook nie Schalk Burger is die antwoord nie.  Schalla is lankal nie meer ‘n spesialis grondspeler nie, maar eerder ‘n baldraer of ‘n skakel met die agterspelers.

Kan die probleem binne ‘n week reggestel word?  Of die antwoord le in die vyf plaasvervangers wat gaan begin sal ons moet sien.  Bismarck speel meer na die bal toe as Strauss en ek vermoed hier gaan ingeboet word.  Die Bokke moet momentum behou in die vaste fasette, wat natuurlik ‘n groter uitdaging gaan behels as die Iere veral in die skrums en kry die bal verder as die middelveld. Pat Lambie en Willie le Roux moet die bal, met momentum, op die voorvoet kry.  Die Bokke het die All Blacks gewen met balbesit, dit gaan egter ook hoe jy die besit aanmeld en om hulle te straf met die buite agterspelers.  Die voorspelers gaan die lyn moet sny soos ‘n warm mes deur botter, om die Pommies te maak omdraai.

‘n Verloor teen Ierland kan regverdig word as ‘n wekroep, maar  nog ‘n pakslae teen Engeland gaan net vernederend wees en sonder verskonings.