As Is Verbrande Hout

Ek is nie ‘n ou wat my sommer bekommer oor dinge in die verre verlede nie so ek het geen probleem daarmee dat ons mooi land op ‘n tyd ‘n Britse kolonie was nie. Ek het ook geen probleem met meeste Britte nie… totdat hulle begin kommentaar lewer oor hul sport.

Die irritasie kom al jare aan, maar Sondagaand het dit skielik weer opgevlam toe ek ‘n direkte Britse uitsending geluister het van die Wimbledon finaal. Andy Murray het as Britse man die eerste keer in 77-jaar die Wimbledon-titel verower en skielik het die Britte hom begin aanbid asof hy sopas die Aarde van ‘n dwalende meteoriet gered het met sy kaal hande en ‘n raket. Nou kyk Andy het darem wragtig mooi gespeel om vir Djokovic in 3 stelle te klop, maar dit maak hom nog glad nie ‘n legende nie.

So begin die week en ek vergeet gougou van Wimbledon, maar toe luister ek mos nou ‘n podcast uit Engeland oor die toetsreeks om die As. Sal die man, blykbaar ‘n kenner nogals, sê op hierdie oomblik is Engeland die span om te wen in toetskrieket in die wêreld. Nou ek wil nou nie die man in die gesig vat nie, maar waar die duiwel val hy uit en waar was hy in die laaste jaar? Was dit nie omtrent ‘n jaar gelede to die Proteas vir Engeland in hul eie agterplaas karnuffel het om die eerste posisie in die Toets-ranglys oor te neem nie?

Maar sien dit stop ook nie daar nie. Net so bietjie meer as ‘n maand gelede het die Engelse boulafrigter, David Saker, ook gesê dat Jimmy Anderson die beste bouler in die wêreld is en dat hy meer vernuf het as Dale Steyn, dit ten spyte van die feit dat Dale Steyn nou al vir ‘n paar jaar lank die nommer een posisie in die Toets-ranglys vir boulers bekleë en Anderson hang maar hier by nommer sewe rond. Ek sê weer:”The Stats Never Lie”. In 82 toetse kon Anderson nog net 307 paaltjies neem teen ‘n gemiddeld van 30.14 terwyl Steyn al 332 paaltjies in net 65 toetse geneem het teen ‘n gemiddeld van 22.65. Dit is ‘n baie groot verskil as jy enige kenner vra, maar nee, volgens die pommies is hulle die beste.

Hulle doen dieselfde in sokker. Engeland het in 1966 die wêreldbeker gewen en hul span was nog nooit weer in ‘n posisie om dit te wen nie, maar elke 4 jaar moet jy in die Britse media hoor hoe “hierdie jaar” Engeland se jaar is om die beker te wen.

So ek dink ek sal vir eers die Britse media vermy en vir die eerste keer in die geskiedenis wil ek eintlik hê die Aussies moet die As-reeks wen, net om die Britte so bietjie stil te maak. En net so terloops… Dit lyk asof Engeland net Engeland is wanneer ‘n Engelsman iets wen, maar as ‘n Ier, ‘n Waliser of ‘n Skot(Soos Andy Murray) iets wen dan is hulle skielik Britanje.

Toetsreeks om die As

Ek sien nogal uit na die toetsreeks tussen Engeland en Australie. Vyf toetse tussen twee ou vyande kan mos net sorg vir goeie vermaak. Die Aussies is ‘n bietjie teen die planke en met ‘n nuwe afrigter en spelers wat onder-presteer sal ons moet sien wat hulle kan opdis. Ek is bly om te sien hoe Peter Siddle klaar gister vyf paaltjies geneem het om vir Engeland ‘n bietjie skrik te maak. Engeland het weer op hul beurt ‘n mooi gebalanseerde span met ‘n stabiele kolforde en boulers wat goed sal doen op hul tuisveld, maar toetskrieket is nie vir sussies nie en oor ‘n reeks van vyf toetse gaan ervaring en goeie besluitneming jou verder bring as individuele vaardigheid en dit is waar ek dink die Aussie ‘n goeie kans het om dalk een of twee van die toetse te wen met Michael Clarke wat die oorhand het oor Alistair Cook in die gebied. Cook sal homself moet bewys as ‘n strategiese kaptein wat die druk kan hanteer. Die Aussies het ook niks om te verloor nie, so ek sou sê die druk is op Engeland om te wen as die gunstelinge op hul tuisveld. Hoe hulle hierdie druk hanteer gaan bepaal wie die potjie as huistoe vat.

‘n Paar As-feite:

– Die As-reeks is al 66 keer gespeel met Australie wat 31 keer gewen het terwyl Engeland 30 keer die As gehou het. 5 reekse het gelykop geëindig.

– Die eerste As-reeks is in 1882 gespeel.

– Shane Warne het die meeste paaltjies geneem in wedstryde tussen die twee spanne: 195.

– Volgens gerugte is die “as” ‘n uitgebrande dwarsbalkie.

Volg vir @BertusHugo op twitter.